NG Gemeente Boksburg Oos : Sendingreis na Botswana, Zambië en Zimbabwe
Die langverwagte sendinguitreik na Botswana, Zambië en Zimbabwe het toe uiteindelik plaasgevind vanaf 24 September tot 2 Oktober 2009. Ons het Donderdagoggend, 24 September, by die kerk se pastorie bymekaar gekom en is verras deur Folscher Greffrath wat sommer op sy verjaarsdag vir ons die Here se seën op ons reis kom toewens het. Die groepie het bestaan uit Cobus, Marietjie, Welmarie en Marilize Fourie, Arina Priem, Gys, Heleen en Lienké Loubsher en Gerrie en Elsie Storm.
.
Na ‘n volle dag se ry – met sewe vrouens in die groep moes ons maar baie stop – kom ons teen donker by Francistown aan waar ons by Woodlands River Chalets oornag. Die oggend van 25 September ontmoet ons Pastoor Admore van die “Inner City Mission” in Francistown waar ons ons eerste besending Bybels oorhandig wat vir ‘n aantal Vigs en Malaria pasiënte in die omgewing bestem was. Omdat veral kinders ook deur hierdie siektes geraak word, word daar ook inkleurboekies en kryt wat Annelie Goodburn spesiaal gemaak het, vir hulle voorsien. Van Francistown vertrek ons na die Plumtree grenspos waar ons Zimbabwe binnegaan. Ons reis deur Bulawayo en vandaar verder noord na Hwange en kom eers donker by die dorpie Victoria Falls teen die Zambiese grens aan waar ons bevoorreg was om vir vyf dae slaapplek by Lokhutula Lodge te kon kry.
.
Maandag, 28 September, reis ons terug na Hwange waar pastoor Meckson Nkomo, vise voorsitter van die Evangelisasie organisasie in Zimbabwe, met verskeie ander gemeentes se predikers ‘n byeenkoms gereël het sodat ons saam met hulle kan gesels en ook te luister na hoe die werk van die Here daar gedoen word. Hier hoor ons van die armoede in die omgewing en dat van hulle gemeentelede selfs boomwortels moet uitgrawe om iets te ete te kan hê. Ons hoor ook van die onbekombaarheid van Bybels, en word ook daarop gewys dat die afgelope jare se probleme in Zimbabwe hulle infrastruktuur totaal vernietig het sodat die meeste mense nou werkloos is. Daar is dus geen geld vir basiese behoeftes in die meeste huishoudings nie.
.
Ons besoek saam met die gemeenteleiers ook sommige van hulle gemeentes en kerkies wat hoofsaaklik in die bos is en wat feitlik onbereikbaar is as gevolg van die swak paaie. Van die kerkies, wat eintlik maar net ‘n kleihuise is , is pragtig skoon met selfgemaakte houtbankies en preekstoel. Op ‘n ander plek sien ons weer die pilare van ‘n kerk in aanbou maar hoor dat dit hulle vyf jaar geneem het om die pilare te bou maar nou geen geld het om die kerk te voltooi nie - ook nie eens geld het om hulle predikante te betaal nie. By een van die boskerkies is die gemeenskapsleier se vrou baie siek aan malaria maar het geen medikasie en is ook nie in staat om mediese hulp te bekom nie. Al wat ons kon doen was om vir haar ‘n paar koors- en pynpille te gee wat ons in ons noodhulpsakkie gehad het. Ons ervaar ook die ongelooflike vreugde en blydskap oor die Bybels en speelgoed wat ons vir die gemeentes agterlaat.
.
Die volgende dag verdeel ons ons groep in twee vir die dag. Heleen, Arina, Lienké, Welmarie en Marilize besoek die “Agape Life Centre” vir kinders in die Hwange omgewing. Die dames wat hier agterbly gebruik die tyd om saam met die personeel van die sentrum te kyk na maniere om hulle werk verder na die gemeenskap en skole uit te brei en verduidelik ook aan hulle hoe die hulpmiddele wat ons saamgebring het, tot voordeel van die sentrum aangewend kan word.
.
Die res van ons pak die pad na nog ‘n afgeleë kerkie van die “Assemblies of God” aan. Die gemeenskapsleier wys ons sy kerkie met groot trots, ‘n kleihuisie sonder dak wat slegs tien mense kan akkommodeer maar waarin hy reeds negentien mense kan inpak vir ‘n diens. Die mense het groot waardering vir die Bybels en klere wat ons vir hulle gee. Ons kan sien dat die mense in hierdie omgewing werklik behoeftig is en feitlik geen klere of kos het nie.
.
Ons besoek ook later die dag die “Reformed Church of Zimbabwe” in Hwange. Hierdie kerk is heelwat groter as die ander kleiner buitegemeentes. Die predikant is ook baie dankbaar vir die Bybels wat hy ontvang.
.
Na ‘n dag se rus pak ons op Donderdag, 1 Oktober, die pad terug na Botswana aan waar ons ons laaste afspraak by Nata moet nakom. Ons ry vanaf Kazankula in die noorde van Botswana op ‘n riller van ‘n teerpad vol slaggate na Nata en bereik ons bestemming so teen eenuur die middag. Hier ontmoet ons vir Peter Martinez, ‘n vrywillige werker vanuit Amerika. Peter neem ons deur Nata Village en vertel ons van die gemeenskap van sowat 6000 mense wat ‘n skool en kliniek insluit. Peter werk by die skool en kliniek as vrywilliger en hy vertel ons dat Vigs reeds groot getalle mense in hierdie gemeenskap eis. Daar is ongeveer 400 ouerlose kinders as gevolg daarvan. Ons word ook voorgestel aan een van die stigterslede van ‘n organisasie, “Mothers for All” wat juwele maak van ou tydskrifpapier en dit dan verkoop om fondse vir die gemeenskap in te samel. Hier versprei ons die laaste Tswana Bybels asook die laaste speelgoed en klere.
.
Van Nata af vertrek ons terug na Francistown waar ons die laaste aand oornag. Die volgende oggend vroeg pak ons die laaste skof terug huistoe aan waar ons laatmiddag in Boksburg arriveer.
.
Dit is met groot dankbaarheid teenoor die Here vir die wyse wat Hy ons op ons reis bygestaan het en ons gehelp het om vir die mense waarmee ons in aanraking gekom het iets te kon beteken. Ons wil ook vir elkeen binne en buite ons gemeente, wat ‘n aandeel aan hierdie uitreik gehad het by wyse van geldelike bydraes, geskenke en Bybels, hartlik bedank vir hulle hulp om hierdie reis moontlik te kon maak. God se vreugde het geskyn onder die mense wat ons besoek het. Selfs onder die slegte omstandighede waarin hierdie mense tans van dag tot dag leef, is hulle uiters dankbaar vir wat hulle het en wat hulle ontvang. Dit is duidelik dat die Here sy kinders in hierdie armoed geteisterde gebied nie vergeet het nie en dat Hy ons gemeente steeds wil gebruik om sy Koninkryk daar verder uit te bou en om hoop vir die mense te bring.








.